Jesus se klere word van Hom afgeskeur – Stasie 10
Johannes 19:23-24 en Matteus 27:33-36
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef.
24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
Die klere van ‘n veroordeelde was destyds die buit van sy laksmanne. Jesus se vyf kledingstukke was waarskynlik sy mantel (‘n oorkleed teen koue), sy tuniek of kleed (chitoon vir daaglikse drag), ‘n beld, sandale, en ‘n tulband. Die kruiseling hang naak voor die wêreld, soos die sondaar naak voor God staan – Jesus dra die straf op Jerusalem en die wêreld se sonde (Eseg.23:28-30; Joh.1:29). Dit is die einde van die weg wat Jesus self ingeslaan het toe Hy sy klere (ta himatia) uitgetrek het om sy dissipels se voete te was, met net ‘n afdroogdoek/handdoek om (Joh.13:4) – aan die kruis egter sonder ‘n lendedoek – Hy het sy eie mense tot die uiterste toe liefgehad (13:1). Die kleed was sonder soom, in een stuk geweef. Die vier soldate besluit om dit nie te skeur nie, maar daaroor te loot. Die Evangelis sien daarin ‘n vervulling van die doel van God, soos die verdeling van sy klere in Ps.22:19 beskryf is. Die soldate vervul God se raadsplan vir die verlossing van die wêreld, met ‘n Koning wat sy volk se naaktheid dra.
